Op die ouderdom van 15 was ek die nuwe kind in die skool. Ek het die meeste van die kinders geken. Maar was nie deel van die groep nie, omdat ek uit ʼn ander skool gekom het. My selfvertroue was op ʼn laagte punt. Ek is geboelie by die skool en heeltemal uitgeskuif.
Na maande kon ek dit nie meer hanteer nie en was selfmoord my enigste opsie. Maar dit was nie my tyd nie.
Aan die begin van die 3de kwartaal het ʼn groep meisie my begin intrek. Ek het geweet dit is nie waar ek wil wees nie, maar die behoefte om deel te wees het my oorweldig.
Vrydae aande was fliek aande in ons klein dorpie. Soos elke ander Vrydag het ek gaan fliek. Gedurende pouse tyd in die fliek is ek deur die groep meisies buite toe gelok. Ons het in ʼn groep gestaan en gesels. Daar was ʼn hele klomp jongmans leerling vak werkers op die dorp. Ek het geweet van hulle maar dit was dit. Hulle het gereeld opmerkings gemaak as ek gaan swem oefen het, omdat ek verby hulle woonstelle moes loop. Ek was op ʼn stadium te bang en self bewus om te oefen.
Twee van die wat gewoonlik opmerkings maak het by die groep aangesluit. En die meisies het my voorgestel aan hulle. Ek wou loop maar is gesê om te bly.
Na die fliek was ek op pad huis toe. Die paadjie was donker en oor die rugbyveld. Die twee vakleerlinge het my ingewag. Ek was dood bang. Maar hulle wou net saam loop. Ek het veilig die huis bereik en was innig dankbaar.
Saterdag was my gewone oefen dag. Ek is swembad toe en het begin oefen.
Soos elke ander keer het ek gaan droog aantrek. In die kleedkamers het ek begin verklee. Die volgende oomblik was die twee vakleerlinge op my. Ek het probeer skreeu maar my mond is toegedruk. Ek is op die beurt deur die twee mans verkrag. Ek was stukkend en die bloed het teen my bene afgeloop. Hulle het gesê as ek iets se dan sal hulle my wys. Ek het gestort en huis toe gegaan. Ek was te bang om ʼn woord te se. Ek kon skaars loop van seer. Maar het gejok en gesê ek het net hard geoefen.
Vir die volgende maand het ek nooit gaan fliek of oefen nie en het altyd ʼn verskoning gehad. Ongelukkig kon ek later nie meer verskonings uitdink nie en moes ek gaan oefen. Elke keer vir 3 jaar as ek by die swembad gekom het hulle my ingewag. Party keer was ek gelukkig en kon ek saam ander kinders weg glip, maar ongelukkig was ek nie altyd so gelukkig nie.
Uiteindelik was ek klaar met skool en kon ek weg kom uit die dorp uit.
Nooit het ek daaroor gepraat nie. Ek wou nooit in ʼn verhouding betrokke raak nie. Ek het hierdie groot geheim in my hart rond gedra. Ek het minderwaardig gevoel, vuil en stukkend.
Jare later kom bly my broer se kinders by ons. Sy dogtertjie toe 4 jaar oud is deur haar Ma se kêrel seksueel aangerand. Dit het letterlik my hart oopgeskeur en al die ou wonde oopgeruk. Ek het haar saak as my eie gevat en begin baklei om haar te help.
In die proses ontmoet ek vir Celeste van Optimystic Bikers against Abuse. Sonder dat ek ʼn woord sê het sy my aandag gevra of gesê sy voel aan dat daar meer is wat ek nie vertel nie. Sy het my vertroue gewen en vir die eerste keer het ek my storie vertel. Behalwe vir hierdie uitmergelende pad met my broer se dogter en haar hofsaak, loop Celeste ook ʼn pad met my om my genees te kry en vrede te maak. Sonder haar sou ek vandag nie gewees het waar ek is nie.
Vandag loop ons na 3 jaar nog ʼn pad met die dogtertjie se hofsaak. Wat ook sy eie uitdagings het. En soms laat wonder of dit ooit ʼn einde gaan hè nie. Saam met Celeste en haar ondersteunings groep sou ons nooit gewees het waar ons vandag is nie. Sou ek nooit die pad van genesing kon loop nie.
Die rede agter hoekom ek my storie met julle deel is, jy het nie nodig om skaam te wees of om jouself te blameer nie. Dit is nie jou skuld nie jy het nie daarvoor gevra nie.
Ek was bang omdat ek gedreig is en ʼn naïewe jong tiener meisie was. Hierdie het gebeur in die 1990`s toe jy nie gehoor het van sulke misdade nie. Moet nooit bang wees om te gaan hulp soek nie. Vandag is dit te laat, maar ek weet dat ek vrede gekry het. God sal eendag die regter wees en hulle daarvoor laat antwoord.
Ek hoop dat jy wat dit lees en ook seer het sal weet dat al voel dit of die seer nooit weg gaan nie, jy vergewe jouself en vind berusting. Dan kom genesing. Ek het nog ʼn lang pad om te loop maar ek is geseën met ʼn engel, Celeste (en haar span), wat die pad saam my loop.
Eintlik loop ons ʼn dubbele pad myne van genesing maar ook die een van ondersteuning in die hof saam my broer se kind. Sonder sulke ondersteuning kan en sal ons as gesin dit nie maak nie.
My wens uit hierdie berig is dat Howe die ondersteuningsgroep vir slagoffers sal raak sien en hulle meer betrek. Dat hulle die tussengangers kan wees en die erkenning sal kry. Baie slagoffers kan nie sonder hulle deur sake kom nie as gevolg van buite faktore wat soms ʼn rol speel.
As daar iewers ʼn liefdadige is wat bereid is om hierdie mense te borg asseblief dink daaraan. Hulle offer tyd, kennis en liefde op om slagoffers en hulle families te help. Dit gaan nie net oor seksueel misdade nie maar ook oor geslag geweld ens.
Celeste (en haar span) baie dankie dat julle my help om my storie te deel.
Comments